KLK LANDBOU BPK AANDELE VERHANDELING ALGEMENE REëLS
 
     
1.

Verhandelingsprosedures

Algemeen
Verhandeling van aandele via KLK Landbou Bpk se verhandelingstelsel vind plaas deur middel van 'n tenderproses. Die tenderperiode duur vanaf die Saterdag wat volg op die laaste Vrydag van 'n maand tot en met 12H00 op die laaste Vrydag van die daaropvolgende maand. Verhandeling vind plaas om 14H00 op die laaste Vrydag van elke maand by die kantore van Du Toit van den Heever.

Vorms om te tender vir die koop en verkoop van aandele is by die volgende kantore beskikbaar:

 
 
a) Du Toit van den Heever
Posbus 204
Upington
8800

Vir aandag: Marita Hanekom
Tel: +2754 - 332 4585
E-pos: maritah@dutoitvdheever.co.za

b) KLK Landbou Bpk
Posbus 86
Upington
8800

Tel: +2754 - 337 6200
E-pos: aandele@klk.co.za
c) KLK Landbou Bpk Takke
Vir aandag: Takbestuurders
 
     
 

Tenders moet in 'n verseëlde koevert of per e-pos voor 12H00 op die Vrydag van verhandeling by (a) of (b)
ingehandig word.

Inligting in verband met die vorige verhandelingstydperk se verhandelingsprys en -volume kan
by die persone in (a) of (b) hierbo verkry word, of op KLK se webadres (www.klk.co.za).

 
     
  Die prys wat aandele behaal tydens die verhandelingsproses word as volg bepaal:  
 
a) Indien 'n verkoper se prys hoër is as 'n koper se prys, vind geen verhandeling plaas nie.
b) Indien 'n koper se prys hoër is as 'n verkoper se prys, vind verhandeling plaas teen die prys van die koper, vanaf die verkoper se aandele met die hoogste tenderprys na die laagste,
en dienooreenkomstig die koper vanaf die hoogste tenderprys na die laagste.
c) Indien meer aandele beskikbaar is as te koop gevra (teen 'n bepaalde prys), word die toekenning pro rata gedoen.
 
     
  Kopers  
  Die prys betaalbaar deur die koper word as volg bereken:  
 
- Aantal aandele toegeken x prys per aandeel behaal "A"
- Plus: Seëlkoste ( 0.25% x "A" ) "B"
 
     
  Al die kopers aan wie aandele toegeken is sal na die verhandeling plaasgevind het, per e-pos
of per faks daarvan in kennis gestel word. Sodanige korrespondensie sal die totale bedrag
deur die koper verskuldig uiteensit. Die totale bedrag verskuldig moet teen die Vrydag wat
volg op die Vrydag van verhandeling in die bankrekening van KLK Landbou Bpk beskikbaar
wees. Die bewys van die inbetaling moet deurgegee word aan die maatskappy sekretaris.
 
     
  Indien die totale bedrag deur die koper verskuldig nie betyds inbetaal word nie, sal die
transaksie gekanselleer word en is 'n boete van R500 deur die koper betaalbaar. Indien
kopers beskikbaar is wat nie suksesvol was tydens die bodproses van die betrokke maand nie,
maar steeds binne die verhandelingskriteria val, sal die kopers dienooreenkomstig genader
word. Die verkopers sal in kennis gestel word van die oorspronklike bod wat verval het en van
nuwe aanbod. Indien geen vergelyk getref kan word tussen die verkopers en die nuwe koper
nie, vind geen verhandeling plaas nie.
 
     
  Die aandele wat nie verhandel het tydens die verhandelingsproses nie, word nie oorgedra na
die volgende maand se verhandeling nie. 'n Koper moet elke maand weer tender vir die koop
van aandele. Onsuksesvolle kopers sal dienooreenkomstig in kennis gestel word.
 
     
  Verkopers  
  Die verskuldigde bedrag aan die verkopers betaalbaar word as volg bereken:  
 
- Aantal aandele verkoop x prys per aandeel behaal "A"
     
 
  Al die verkopers van aandele sal na die verhandeling plaasgevind het, per e-pos of telefonies
daarvan in kennis gestel word. Sodanige korrespondensie sal die totale bedrag aan die ver-
koper verskuldig uiteensit. KLK Landbou Bpk sal die totale bedrag verskuldig teen die tweede
Vrydag wat volg op die Vrydag van verhandeling, elektronies in die verkoper se bankrekening
inbetaal, onderhewig aan die oorbetaling deur die kopers in KLK Landbou Bpk se rekening.
 
     
  Die aandele wat nie verhandel het tydens die verhandelingsproses nie, word nie oorgedra na
die volgende maand se verhandeling nie. 'n Verkoper moet elke maand weer tender vir die
verkoop van aandele. Onsuksesvolle verkopers sal dienooreenkomstig in kennis gestel word.
 
     
  Indien 'n verkoper sy totale aandeelhouding te koop aanbied en al die aandele word verhandel,
word die verkoper se leningsrekening outomaties ook aan hom uitbetaal. Indien sodanige ver-
koper 'n bedrag verskuldig is op sy debiteurerekening by KLK, word hierdie bedrag eers ver-
reken teen die leningsrekening voor uitbetaling geskied. Hierdie verhaling is slegs ten opsigte
van die gedeelte van die debiteurerekening wat buite terme is en tot 'n maksimum van die
leningsrekening bedrag. Die verskuldigde bedrag in die geval word as volg bereken:
 
     
 
- Aantal aandele verkoop x prys per aandeel behaal "A"
- Plus: Leningsrekening "B"
- Min: Debiteurerekening ( buite terme < of = leningsrekening ) "C"
 
     
2. Inligting benodig vir verhandeling  
     
  Die volgende inligting word benodig:  
     
  Koper  
 
a) Tender vorm vir die aankoop van aandele. Die aantal aandele wat gekoop moet word
( "onbeperk" of "almal beskikbaar" is nie aanvaarbaar nie ) en die bedrag waarvoor die
aandele gekoop moet word, moet spesifiek aangedui word.
b) Bewys van die inbetaling gemaak.
c) In die geval van 'n nuwe aandeelhouer wat nog nie 'n rekening by KLK Landbou Bpk het
nie, gewaarmerkte afskrifte van die volgende:
- 'n afskrif van die koper se identiteitsdokument ( in geval van 'n trust, afskrifte van die
trustakte en die trustees se identiteitsdokumente; in die geval van 'n maatskappy,
afskrifte van die akte en statute, notule ter magtiging van 'n persoon om op te tree
namens die maatskappy en persoon se identiteitsdokument; in die geval van 'n
beslote korporasie, afskrifte van die stigtingsverklaring, notule ter magtiging van 'n
persoon om op te tree namens die beslote korporasie en persoon se identiteits-
dokument )
- bewys van fisiese adres, byvoorbeeld 'n munisipale rekening
   
 
  Verkoper  
 
a) Tender vorm vir die verkoop van aandele. Die bedrag waarvoor die aandele verkoop moet
word, moet spesifiek aangedui word.
b) In die geval van 'n maatskappy, beslote korporasie of trust, notule ter magtiging van 'n
persoon om op te tree namens die entiteit en 'n afskrif van die persoon se identiteits-
dokument.
c) In die geval van 'n boedel, 'n gewaarmerkte afskrif van die eksekuteursbrief asook die
magtiging om op te tree as eksekuteur ( indien van toepassing ).
d) Volledige bankbesonderhede.
e) Die oorspronklike aandelesertifikaat.
f) Getekende sekuriteite oordragvorm ( vorm CM 42 ).
   
 
3. Algemene inligting  
     
  Op KLK Landbou Bpk se webadres ( www.klk.co.za ) is die volgende inligting beskikbaar
wat gebruik kan word deur 'n potensiële koper of verkoper van aandele om 'n ingeligte besluit
te neem ten opsigte van die verhandeling van die aandele:
 
     
 
a) Finansiële inligting
 
 
  - Geouditeerde finansiële state
  - Halfjaar finansiële state
  - Omsigtigheidsverklarings en nuusvrystellings
 
 
b) Aandele inligting
 
 
  - Verhandelingsprosedures
  - Aantal aandele verhandel oor 'n periode
  - Laaste verhandelingsprys
  - Dividend betaalbaar
 
     
  Die geslote periode vir verhandeling is as volg:  
 
- Geouditeerde finansiële jaarstate: Vanaf 28/29 Februarie tot en met die publikasie van
die finansiële resultate
- Halfjaar finansiële resultate: Vanaf 31 Augustus tot en met die publikasie van die
finansiële resultate
- Omsigtigheidsverklarings, ens: Vanaf die dag wat die inligting intern beskikbaar is aan
enige amptenaar / direkteur tot en met die publikasie
van die inligting
 
     
  Die geslote periode vir verhandeling is op die volgende persone, wat insluit familielede en
enige ander regspersoon waarin sodanige persoon of familielid 'n belang het, van toepassing:
 
 
- Direkteure ( KLK Landbou Bpk, filiale en geassosieerdes )
- Personeel ( KLK Landbou Bpk, filiale en geassosieerdes )
- Ouditeure ( KLK Landbou Bpk, filiale en geassosieerdes )
 
     
  Familielede waarna verwys word, sluit in die gade, kinders wat onder sodanige persoon se
toesig of beheer is en enige inwonende familie.
 
     
4. Fasiliteringsrol  
     
  KLK Landbou tree slegs op as fasiliteerder en die risiko vir die betaling van aandele gekoop,
is by die koper.
 
     
 
Kopiereg © 2007 KLK Landbou Bpk.