Net sowat 80 000 boere kon gehelp word met die droogtehulp wat die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye deur sy ondersteuningsprogram vir boere beskikbaar gestel het, sê mnr. Senzeni Zokwana, Minister van Landbou, Bosbou en Visserye. Zokwana het parlementêre vrae beantwoord wat me. Annette Steyn, die DA se skaduminister vir die landbou, aan hom gestel het.
Hy het ook aangedui dat al nege provinsies in die land by die departement aansoek gedoen het vir verdere geldelike hulp om die droogte se uitwerking te versag. Kwazulu-Natal en die Noord-Kaap het al so vroeg as April 2015 vir bykomende hulp aansoek gedoen en wag steeds.
Steyn het gesê hoewel sy bly is dat die Regering hulp verleen het, is dit heeltemal te min en ook te laat. “Daar kom nog ’n groot krisis hierdie winter. In die Vrystaat waar ek rondgaan lyk die situasie nog sleg en in die Noord-Kaap, Mpumalanga en in Noordwes is dit nog bitter droog.” Georganiseerde landbou het aangedui dat sowat R12 miljard nodig is om boere deur die krisis te help en as die droogte tot ’n nasionale ramp verklaar word, kan boere beter bygestaan word, het Steyn benadruk.