‘n Administratiewe raamwerk is nou in plek sodat ʼn sekere hoeveelheid Amerikaanse hoenderstukke aan die been Suid-Afrika sonder teenstortingstariewe mag binnekom. Die enigste kwessie wat nog opgelos moet word, is dieregesondheidskwessies.
Suid-Afrika en Amerika het net tot 4 Januarie 2016 kans om die hierdie kwessies op te los, anders verloor Suid-Afrika sy landbouvoordele, volgens die Amerikaanse wet vir groei en geleenthede in Afrika (Agoa).
Die riglyne is Vrydag, 18 Desember, in die Staatskoerant bekend gemaak. Ongeveer ses maande gelede het die twee lande se pluimveebedrywe in Parys, Frankryk, op ʼn rabat op teenstortingstariewe ooreengekom, wat vir 65 000 ton hoender per jaar sal geld.
Die plaaslike bedryf was gedwing om die toegewing te maak, aangesien Amerika gedreig het om SA uit Agoa te skop, wat vir ʼn wye verskeidenheid Suid-Afrikaanse produkte tariefvoordele in die Amerikaanse mark bied.
Amerikaanse President, Barack Obama, het in November gesê dat SA met die maatreëls vir die rabat sloer, en indien die kwessies nie teen 4 Januarie 2016 in plek is nie, sal SA sy Agoa-voordele vir landbouprodukte verloor.
Luidens die riglyne wat nou gepubliseer is, sal ʼn pro rata-kwota van 16 250 ton van 18 Desember tot 31 Maart geld.
Lees die Landbou.com berig hier.