Agri SA sê die nasionale begrotingsgeld wat aan die Departement van Landbou, Bosbou en Vissery toegeken is, is heel buite verhouding met wat van die landbousektor verwag word. Die begroting van R6,3 miljard word in die 2016/17 finasiële jaar met R65,8 miljoen gesny.
Mnr. Dan Kriek, vise-voorsitter van Agri SA, sê die besnoeiing in die begroting sal ook ʼn negatiewe invloed op die departement se ander openbare instellings, soos die Landbounavorsingsraad, hê. “Die sektor kan dít nie bekostig nie. Die LNR speel ʼn deurslaggewende rol en sukkel al klaar om sy mandaat te vervul weens geldbeperkings. Die landbou is van die grootste belang, nie net vir die ekonomie en voedselsekerheid nie, maar ook vir maatskaplike stabiliteit. Dit het nou meer ondersteuning nodig weens die erge droogte en nie minder nie.”