Die Boerbokbedryf in Suid-Afrika gaan van krag tot krag met uitstekende pryse wat tot dusver op veilings vir ooie en ramme betaal is.
Me. Michelle Kruger, rasdirekteur van die SA Boerboktelersgenootskap, sê die pryse van Boerbokke op veilings vanjaar is stabiel, met ’n goeie vraag. “Die bedryf het ’n gevestigde mark,” sê sy. Wat pryse betref, sê sy dit wissel van veiling tot veiling. “Op ’n produksieveiling van ’n bekende stoetery het pryse gemiddeld R10 250 stuk vir ooie beloop, terwyl ’n ooi met lam saam R13 250 behaal het. Die ramme is teen gemiddeld R14 250 stuk verkoop,” sê sy.
Kruger sê dat vanjaar se pryse baie goed met verlede jaar se pryse vergelyk en dat uitstekende pryse tot dusver op veilings verkry is. Volgens haar is die rede vir die hoë pryse vir goeie produksiediere ’n puik aanbod van gehalte diere, asook goeie bemarking.