Al is daar gereelde kommunikasie tussen Karooboere en amptenare van SKA Suid-Afrika, het boere wat hul grond moet verkoop of op wie se grond serwitute geregistreer gaan word, nog baie vrae.
By ’n vergadering wat Agri Kareeberg, die landbouvereniging van Carnarvon, tussen boere en hoëvlak-amptenare van SKA Suid-Afrika gereël het, het boere veral vrae oor roofdierbestryding, kommunikasieprobleme, die toekoms van plaaswerkers op plase wat verkoop moet word, belastingimplikasies en plaasveiligheid gehad.
Telekommunikasie, wat van die begin af ’n knelpunt was, is nog nie bevredigend opgelos nie. Heelparty boere is steeds nie oortuig dat die SKA nie selfoonseine afsny nie. Dr. Adrian Tiplady, wat in die strategiedepartement van SKA Suid-Afrika werk en met alternatiewe kommunikasie gemoeid is, het gesê as hulle ’n steuring optel, sal hulle die oorsprong daarvan soek en regstreeks met boere onderhandel en verseker dat daar altyd ’n “vatbare, funksionele en bekostigbare” alternatief is vóórdat seine geblok word.