Elke veeboer behoort ‘n noodhulpkas met basies elemente te hê vir wanneer ‘n veearts nie betyds by sy plaas kan kom nie. ‘n Noodhulpkas kan ook nuttig wees vir basies behandelinge en prosedures. Arnold Botha van ANB Vet in Gauteng het die volgende items identifiseer as ‘n móet wanneer ‘n veeboer sy noodhulpkas saamstel.
Tou
Die eerste item wat Arnold noem is ’n goeie tou waarmee ’n dier geïmmobiliseer kan word. Hy beveel ’n ski-tou van tussen 7 en 10mm in deursnee en ongeveer 12m lank aan.
Antibiotika
Hier is Arnold se aanbeveling is ’n verskeidenheid wat elk op ’n spesifieke manier aangewend kan word. Dit sluit ’n salf wat op wonde gesmeer kan word, asook ’n spuitmiddel, poeier en inspuitbare antibiotika in.
“’n Antibiotiese middel in ghriesvorm, wat ’n insekdoder bevat om brommers en maaiers mee dood te maak, is ook noodsaaklik,” sê hy.
Indien jy in ’n hartwatergebied boer, behoort jy ook ’n paar botteltjies algemene antibiotika soos oksitetrasiklien byderhand te hou.
Spuite
Spuite is nog ’n noodsaaklikheid. Dit maak nie saak of jy weggooibare of herbruikbare spuite gebruik nie, solank jy dit volgens die aanwysings gebruik en deeglik ná gebruik skoonmaak. Dit is ook belangrik dat jy genoeg naalde van verskillende lengtes en diktes vir onderhuidse of binnespierse inspuitings het.
Ontsmetting en wondbehandeling
Arnold sê dit is belangrik om ’n goeie ontsmettingsmiddel in jou noodhulpkas in te sluit. Dit kan enige algemene ontsmettingsmiddel soos Dettol, Savlon of waterstofperoksied wees. Dit is ook handig om ’n bottel jodium beskikbaar te hê om wonde mee te ontsmet. Geen kiem kom verby ’n jodiumgrens nie.
Nog ’n doeltreffende item vir wondbehandeling is hegmateriaal waarmee wonde toegewerk kan word. ’n Mens kry ’n stelletjie met ’n naald en hegtingsdraad van 1,5 of 3m wat steriel verpak is en gereed is om te gebruik.
Lees meer oor jou noodhulpkas benodighede op AgriOrbit.