Die uitwerking van die droogteramp wat die land tans teister, sal Suid-Afrikaanse verbruikers se beursies in die nuwe jaar ruk.
Tydens ‘n spesiale episode van Nasie in Gesprek op kykNet, blyk dit asof die huidige droogte selfs erger kan wees as dié van 1991/1992.
“Die rimpeleffek van die droogte sal volgende jaar regtig vir verbruikers duidelik word. Die landbou se bydrae tot die bruto binnelandse produk lyk klein, maar weens sy vermenigvuldigingseffek sal die droogte regdeur die waardeketting gevoel word. Dus, aan die een kant is die droogte sleg, maar aan die ander kant sal almal kan sien hóé belangrik die landbou vir die ekonomie is,” het prof. Johann Kirsten, hoof van die departement landbou-ekonomie by die Universiteit van Pretoria verduidelik.
Die planttyd in die oostelike mielie produksiegebied is reeds verstreke. Indien die westelike produksiegebied goeie reën kry gedurende Desember, kan dit moontlik die mielie-opbrengs in die land opstoot.
Lees die Landbou.com artikel hier.