Suid-Afrika is nie die enigste land wat tans onder die droogte gebuk gaan nie, sy buurlande trek ook swaar.
Die kombinasie van die droogteramp, ‘n tekort aan grondstowwe en min betaling vir produkte, is slegs ‘n paar van die probleme wat boere noord van Limpopo in die gesig staar.
Francois Briers, ’n verteenwoordiger van Zimbabwe se voerkraalbedryf, vertel dat hulle ook deur die droogte geaffekteer word. Streke in Zimbabwe, soos die Laeveld en Matabeleland, het plek-plek reën gehad. Boere het reënvalle van tussen 10 mm en 50 mm gemeet. Baie besproeiingsdamme in die land is ook besig om droog te loop, wat die plant van mielies en sojabone belemmer.
In Zambië is daar ook ‘n tekort aan weiding vir beeste. Belangrike riviere, vir die opwekking van hidro-elektrisiteit, se watervlakke is besonders laag. André Nel van Zim Zam Farming verduidelik dat die reënpatroon in sentrale dele van dié land, drie weke laat is.
Zambië se minister van landbou en koöperasies oorweeg dit tans om mielies in te voer nadat die land se mielieproduksie van 3,3 miljoen ton tot 2,6 miljoen ton gedaal het.
Lees die Landbou.com artikel hier.