Die intense droogtetoestande bly steeds prominent in groot gedeeltes van Suidelike Afrika. Namibië, die westelike dele van die Noordwes Provinsie, die grootste deel van die Noord-Kaap, die sentrale tot suidelike dele van die Oos-Kaap, die noordoostelike en noordwestelike dele van die Wes-Kaap asook gedeeltes van Limpopo is in die greep van ‘n intense droogte en minder as 50% van die gemiddelde reënval het voorgekom in die 2018/19 seisoen (1 Julie 2018 tot 30 Junie 2019). Baie min of geen reën het ook in Julie, Augustus en September 2019 voorgekom.
Oppervlakwatertoestande is steeds redelik gunstig vir die meeste van die groot opgaardamme in die land met die uitsondering van die Vaaldam wat baie vinnig begin daal asook damme in die Oos-Kaap en kleiner damme in veral die Karoo.
Verwagte reënval en temperatuur
Met die ontwikkeling van ‘n positiewe IOD (Indiese Oseaan Dipool) vir die komende maande kan dit negatief inwerk op reënval vir die lente en vroeë somer. Die verwagte neutrale ENSO (El Nino Suidelike Ossilasie) kan die reën vir die mid- tot laatsomer bevoordeel.
Korttermynvoorspellings dui reën aan vir die laaste deel van September en eerste deel van Oktober oor die sentrale tot suidelike en suidoostelike dele van die land maar die reën is meer as gevolg van ‘n winterreënvalsisteem (koue front) as ‘n somerreënvalsisteem. Dit is egter moontlik dat ligte reën oor die droogtegeteisterde gebiede van die suidelike Noord-Kaap en Oos-Kaap kan voorkom voor die einde van September.
Bron: ProAgri