Mnr. Johan van den Berg, klimatoloog van Santam Landbou is optimisties dat Suid-Afrika se somerreëngebied ná die afgelope droë siklus in ‘n natter tydprek begin inbeweeg.
Van den Berg was ‘n spreker op die kwartaallikse landboumark-werksessie in Bloemfontein, waar hy gepraat het oor die wetenskap agter weer- en klimaatvoorspellings en vooruitsigte vir die res van die seisoen.
Soos sake nou staan, is daar ‘n 70%-kans op ten minste normale reën vir die grootste deel van Suid-Afrika, sê hy.
Van den Berg waarsku dat boere die wetenskaplike werklikheid van seisoenale voorspellings moet besef. Dit is op historiese statistieke gegrond, en nie – soos weervoorspellings op korter termyn – op dinamiese modelle nie. “As daar ‘n 70%-kans op normale reënval is, is daar steeds ‘n 30%-kans dat dit nie ‘n werklikheid word nie. As die reënval dus ondergemiddeld is, het die 30% gegeld.
“Voorspellings bly voorspellings; dit is nie feite nie. Die heel beste voorspellings se akkuraatheid is gewoontlik nie meer as 70% nie. Die effek van klimaatsverandering word ook nie in seisoensvooruitskouings verreken nie. Bou dit in jou beplanning in. Besluit wat jy gaan doen as die 30%-kans realiseer.”
Hy voeg by dat dit onmoontlik is om die weer vir ‘n enkele geografiese punt te voorspel. “In ‘n goeie jaar kan jy steeds in ‘n swak kol lê.”
Dieselfde geld vir reënvalverspreiding binne ‘n seisoen: “Dit is amper onmoontlik om te voorspel.”
Boere moet ook nie net die voorspellings vir die komende seisoen in ag neem as hulle beplan nie. Die kumulatiewe uitwerking van voorafgaande droogtes (op byvoorbeeld ‘n boerdery se finansiële posisie en grondvogvlakke) word té dikwels nie verreken voor boere op ‘n plantstrategie vir die komende seisoen besluit nie, sê hy.
Hy waarsku voorts teen die geneigdheid om ooroptimisties te wees en die beste toekomsscenario as normaal te beskou. “Moenie ‘n goeie jaar as die nuwe normaal beskou nie.”
Bron: Landbou.com