Hittestres is een van die belangrikste redes vir laer produksie en reproduksie by beeste.
Dit gaan ál meer sy tol eis namate die gevolge van aardverwarming sy merk op die beesbedryf laat. Kruisteling met aangepaste rasse kan egter koeidoeltreffendheid met byna 50% verhoog.
Pak kruisteling reg aan – dit oorkom nie net die gevolge van aardverhitting nie, maar bied ook ’n oplossing vir boere wat onder toenemende druk is om meer met minder te produseer. Só sȇ me. Anette Theunissen, ’n veekundige en een van die dryfvere vir omvattende kruisteelnavorsing in die Noord-Kaap.
Sy het op die jaarlikse boeredag van die Winton-boerevereniging op Kathu gepraat oor die rol wat basterkrag speel ten opsigte van ’n kleiner koolstofspoor en groter produktiwiteit.
By ’n gebrek aan termiese gemak soek diere na maniere om van hitte ontslae te raak. Dit behels ’n reeks aanpassings in hul respiratoriese, sirkulatoriese, ekskretoriese, endokriene en senustelsels. Die gemiddelde temperatuur in die Noord-Kaap kan in die nabye toekoms met 2,3 °C tot 4 °C opskiet van die huidige gemiddelde, wat 29,6 °C beloop.
Die aantal warm dae in dié provinsie kan terselfdertyd van 65 dae tot 205 dae toeneem en die voorkoms van hittegolwe kan van 16 keer tot 26 keer per jaar styg.
Theunissen, ’n navorser en diereteler aan die Noord-Kaapse departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, het gesȇ vleisproduksie het ’n groot koolstofspoor wat tot aardverwarming aanleiding gee.
Om dié spoor kleiner te maak, moet beesgetalle verminder word, maar produksie per dier moet terselfdertyd styg om tred te hou met die vraag na vleis. Hierdie verhoogde doeltreffendheid sal help om die hoeveelheid kweekhuisgasse per eenheid produk wat gelewer word, te verminder.
Om die vrylating van kweekhuisgasse in die diereryk in perspektief te stel: Twee vrylopende koeie produseer jaarliks net soveel kweekhuisgas (229 kg metaangas) as ’n motor wat 16 000 km per jaar aflȇ (en 5 258 kg koolstofdioksied – oftewel CO² – vrystel).
Verhoog Produktiwiteit
Die Buro vir Voedsel- en Landboubeleid (BFAP) voorspel boonop dat beesvleispryse oor die volgende tien jaar in reële terme gaan daal.
“Produktiwiteit op grondvlak moet dus verhoog om mededingend te bly op die vleismark. Graanpryse gaan ook daal en produsente sal tegnologie moet gebruik om méér met minder produksiemiddele te produseer,” het Theunissen gesȇ.
Die doel van enige teeldoelwit moet wees om nie slegs genetiese veranderings te verkry nie, maar ook om produksiedoeltreffendheid en opbrengs uit verkope te verhoog. Seleksie vir ’n aantal tradisionele eienskappe, soos speengewig, sal produksie laat styg, maar dit sal nie noodwendig die produktiwiteit of doeltreffendheid verbeter nie.
Die onderskeie produksiestelsels in beesboerdery verg aanpassings, asook die diere se verdraagsaamheid ten opsigte van die omgewing.
Dit kan selfs vir sommige produsente nodig word om in die volgende 25 – 30 jaar na ’n ander beesras oor te slaan. Die soort produksiestrategie wat die beesboer volg, sal primȇr van die omgewing, mark en bestuursvlak afhang.
In taai, onderontwikkelde gebiede sal ras-egte teling met inheemse rasse waarskynlik die enigste produksiestelsel wees om te volg. Daar kan egter ook gevalle wees waar inheemse rasse en hul kruisings aan die vereistes sal voldoen.
Goed ontwerpte kruisteling
Theunissen het gesȇ ’n goed ontwerpte kruisteelstelsel benut die voordele van ’n kombinasie van uitstekende eienskappe van die onderskeie rasse om die diere se doeltreffendheid te verbeter.
Gewoonlik kan maternale rasse (wat presteer ten opsigte van eienskappe soos vrugbaarheid, min distokia (koeie wat nie sukkel om te kalf nie), hoë melkproduksie, lae onderhoudsbehoefte en goeie moeder-eienskappe) met paternale rasse (wat goed vaar met eienskappe soos groeitempo en voerdoeltreffendheid, vleisgehalte en karkasopbrengs) gekruis word.
Kruisteling moet produksie verhoog sonder om méér produksiemiddele uit die omgewing te verg. In hierdie verband is proewe met verskillende rasegte en kruisrasse op die Vaalharts-proefplaas by Jan Kemp-dorp gedoen. Een van die proefnemings was met die Nguni in ’n terminale kruising met Angusbulle. Hierdie kruiskalwers is op 177 kg gespeen.
Die moeders het gemiddeld 355 kg geweeg. Dit beteken ’n produksie van 142 kg speenkalf per grootvee-eenheid (GVE). Daarenteen het rasegte Ngunikalwers op 145 kg gespeen by moeders van gemiddeld 365 kg, vir ’n produksie van 116 kg kalf/GVE.
Die kruising het die koeidoeltreffendheid dus met 22,4% verhoog. Die onlangse, verfynde omskakeling van koeigewig van verskillende raamgrootes (in hierdie geval kleinraamgrootte) na GVE is hier gebruik.
Voorbeelde van kleinraamrasse is Angus, Afrikaner, Nguni, Galloway, Hereford, North Devon en Vleiskorthoring. Voorbeelde van mediumraamrasse is Bonsmara, Brahman, SA Suiwel-Switser, Drakensberger, Pinzgauer en Sussex. Voorbeelde van grootraamrasse is Charolais, Simmentaler en South Devon.
Lees meer oor die vergelyking in koeidoeltreffendheid tussen koeie hier: Landbou.com