Sheffield-universiteit se kenners sê die erosiekoers van geploegde lande is gemiddeld tussen 10 tot 100 keer vinniger as die koers van grondvorming. Daar word ook beweer dat 33% van die wêreld se bewerkbare landbougrond oor die afgelope 40 jaar aan erosie of besoedeling afgestaan is.
Intensiewe boerderymetodes is nie meer volhoubaar nie, meen hulle. “Dit is katastrofies as jy oorweeg dat dit sowat 500 jaar neem om 2,5 cm bogrond te vorm onder normale landboutoestande. ’n Volhoubare model vir intensiewe landbou kan die lesse uit ons geskiedenis leer kombineer met ons kennis van biotegnologie,” sê Duncan Cameron, professor van plant- en grondbiologie by dié Universiteit.
Die Sheffiled-navorsers sê die model wat hulle voorstel, is in die volgende beginsels gegrond:
- Die bestuur van die grond deur die toediening van mis, wisselbou en geen bewerking om die grond se organiese materiaalvlakke, struktuur, waterhouvermoë en voedingstowwe te herstel.
- Die gebruik van biotegnologie om gewasse van die kunsmatige wêreld wat vir hulle geskep is, te speen en sodoende die plante se naby kontak met grondmikrobes te verbeter.
- Die hergebruik van voedingstowwe in riool. Anorganiese bemesting kan uit riool in grootskaalse bioraffinaderye vervaardig word. Hulle meen ook dat verskeie tegniese probleme eers uit die weg geruim moet word, wat deur middel van navorsing sal geskied.
“Sodoende kan ons ons afhanklikheid van energie-intensiewe en nie-volhoubare anorganiese bemesting afskaal, besoedeling van waterweë verminder en goeie grond vir ons nageslagte nalaat. Daar is natuurlik nie een model wat vir almal sal werk nie,” sê Mnr. Peter Horton, mede-direkteur van die universiteit se Grantham Sentrum vir Volhoubare Toekomste.
Lees die Landbou.com artikel hier.