Daar is in Kalifornië en Israel al navorsing gedoen oor die stompkopkewer en die uitwerking wat dit op landbougewasse kan hê, maar hierdie navorsing is nog nie in Suid-Afrika gedoen nie. Dus is dit moeilik om te voorspel hoe dit die plaaslike landboubedryf gaan raak.
Die bostaande is volgens prof. Francois Roets van Universiteit Stellenbosch se departement bewaringsekologie en entomologie. Daar is onlangs in ’n verslag bevestig dat die kewer wat in Somerset-Wes opgemerk is, wel die stompkopkewer is.
Die kewer is in Mei 2017 by pekanneutbome by Jan Kempdorp opgemerk, maar dit lyk of dié bome en makadamianeutbome nie-reproduktiewe gashere is nie, omdat die bome ’n natuurlike weerstand teen die kewer en sy simbiotiese swam het.
Roets sê stompkopkewers is ook al by kersie- en appelbome, asook wingerde gevind, alhowel daar nog geen navorsing gedoen is oor die invloed wat die kewer op hierdie gewasse kan hê nie. Dit is moontlik dat die kewer byvoorbeeld kan uitbroei in Stellenbosch se akkerbome, ’n reproduktiewe gasheer, en dan na wingerde kan versprei.
Navorsing oor hoe die kewer gewasse in die plaaslike landboubedryf kan beïnvloed, is dringend nodig, veral aangesien die kewer al in elke provinsie in die land voorgekom het, sê Roets. “Om navorsing daaroor te kan doen, het ons geld en mense nodig sodat ons kan bepaal hoe die kewer en die swam wat hy vrystel, plaaslike gewasse kan beïnvloed.”
Volgens Roets kan die kewer aangetref word binne enige gewas met ’n stamdikte van 3 cm of meer. Dus in teorie kan enige boom met ’n dik genoeg stam ’n gasheer wees. Die teenwoordigheid van die kewer en die swam in ’n plant kan steeds ’n effek op die opbrengs hê, hoewel die kewer nie in alle bome kan broei nie. Volgens Roets word daar vermoed dat die kewer selfs fynbos soos proteas as gasheer kan gebruik en dat dié kewer reeds in botaniese tuine aangetref is. “Dit is egter nog te vroeg om te sê of dit ’n groot probleem kan wees.”
Die grootste rede waarom navorsing dringend gedoen moet word, is omdat daar geen geregistreerde gifstof teen die kewer nie. Om bome te verwyder en die hout te vernietig as die kewer daarin begin broei het is die enigste opsie wat tans doeltreffend is. “As ’n gifstof gevind word, sal verdere navorsing nodig wees om te bepaal of die toksiese effek van die gifstof ’n nadelige effek op boere se opbrengs sal hê.”sê Roets
Roets sê dat die enigste manier om die verspreiding van die kewer te voorkom, is om die beweging van hout tussen verskillende gebiede te beperk.
Volgens ’n verslag deur die instituut vir bosbou- en landboubiotegnologie (Fabi) aan die Universiteit van Pretoria het navorsers eers van die kewer se teenwoordigheid in Suid-Afrika in Februarie 2017 bewus geword.
Tonnels word in ‘n boom geboor deur die stompkopkewer om tonnels te skep waarin eiers gelê kan word. Die kewer kan nie hout verteer nie, daarom word ’n swam in die tonnels vrygestel waarop die kewers kan voed as hulle uitgebroei het. Bome se hout word deur die swam beskadig. ‘n gemiddeld van 34 eiers word deur elke vroulike kewer gelê. Daar is een manlike kewer wat uitbroei vir elke tien vroulike kewers.
Volgens die verslag is dit belangrik om te let daarop dat nie alle bome waarin die kewer broei, sal vrek nie. Al stel die kewer dié skadelike swam in bome vry, sal dit net in ’n klein aantal bome broei. Die meeste aandag word aan reproduktiewe gashere gegee wat die bekamping van die kewer betref. In Suid-Afrika is kewers al by 80 verskillende boomspesies gevind, waarvan 35 inheemse boomspesies was. Omtrent 20 van hierdie spesies is reproduktiewe gashere. Volgens die verslag is kewers al by perske-, makadamianeut-, koejawel-, sitrus-, en pruimbome, en ook by wingerde aangetref.
Oorspronklike artikel op Landbou.com