Tot 50 mm reën is sedert Woensdagaand op Pofadder gemeet, met boere in dele van die Noord-Kaap, die Wes-Kaap en die Karoo wat “vol moed” is oor die reën.
“Ek verneem van die manne by Sutherland sit al amper in die rivierloop en wag vir die swaar reën wat die Suid-Afrikaanse Weerdiens voorspel het,” sê mnr. Henk van Wyk, voorsitter van Agri Noord-Kaap. Die weerdiens het Woensdag ‘n waarskuwing uitgereik dat oorstromings moontlik is weens swaar reën oor de verre suidwestelike dele van die Noord-Kaap, asook die westelike en sentrale dele van die Karoo en die distrik Eden in die Wes-Kaap.
Reën het Donderdag teen 02:30 op Van Wyk se plaas Vondelingsfontein naby Calvinia begin uitsak. “Ek het wakker geword van die vreemde geluid. Ons is nie meer gewoond daaraan nie. En toe het ek eers lekker gelê en luister.” Teen Donderdag om 12:00 het hy reeds 22 mm gemeet.
Paasfeesreën
Me. Retha Compion van die plaas Neelsvlei in die distrik Pofadder sê boere in dié distrik het van 20 mm tot 50 mm reën gemeet. “Almal hier voer hul diere al byna twee jaar. Dit lyk wel of die Paasreën verligting gaan bring. Dis steeds toegetrek hier, soos wanneer dit oor die land heen reën. Elke druppel trek in die grond in,” het sy gesê.
Volgens die weerdiens se reënvalsyfers het van 10 mm tot 32 mm tot Donderdag om 08:00 oor dele van die Noord-Kaap voorgekom. Tot 20 mm is by Springbok en Vioolsdrif gemeet. Oor dele van die Wes-Kaap is Donderdagoggend van 7 mm to 13 mm aangeteken.
Bron: Landbou.com
Foto: Retha Compion