Verskeie boere en landboukundiges in die Noord-Kaap is onlangs deur Landbouskrywers Suid-Afrika se !Xhariepstreek vereer vir hul bydrae tot die land en hul gemeenskappe.
Die streek – wat die Wes-, Oos- en Noord-Kaap insluit – het erkenning gegee aan boere en landboukundiges afkomstig uit die streek op ’n glansgeleentheid by Vredenheim naby Stellenbosch.
Mnr William van Aarde, hooflandboukundige van die Karsten-boerdery is as die Noord-Kaapse Landboukundige van die Jaar aangewys. Mnr Francis Visagie van die Visagie-boerdery by Kenhardt is as die Landbouskrywers SA se Noord-Kaapse Boer van die Jaar vir 2019 aangewys. Mnr. Dirk Louw van Silver Moon Investments in die distrik Groblershoop is as 2019 se Nuwe Toetreder tot die Kommersiële Landbou in die Noord-Kaap aangewys. Dié drie wenners sal saam met die ander provinsiale wenners meeding vir die nasionale titels wat op 15 November tydens ‘n spesiale geleentheid te Pretoria bekend gemaak word.
Leer meer oor die wenners:
Mnr Visagie se boerdery bestaan grotendeels uit drie komponente. Dit sluit ‘n kommersiële Dorperboerdery, ‘n embriospoelstasie en ‘n wildsafdeling in.
Mnr Van Aarde het homself die afgelope 16 jaar bewys by een van die land se grootste tafeldruifprodusente.
Mnr Louw boer met Meatmasters en Dorpers en het vanjaar ‘n rekord-oes van meer as 200 ton rosyntjies gehad. Hy boer op 68 hektaar, wat verdeel is in 30 hektaar droogdruifwingerde, een hektaar wyndruifwingerde, 24 hektaar pekanneutbome en 14 hektaar wisselbougewasse.
Artikel inligting verkry vanaf Netwerk24 en Pressreader