Die bedryfsliggaam van rosyntjie boere is herdoop tot Raisins South Africa en hulle kan nou beter aan hulle lede se behoeftes voorsien sedert hulle na Upington verskuif het.
Die Noord-Kaap produseer sowat 90% van Suid-Afrikaanse rosyne. Raisin South Afrika het om die rede nader aan produsente beweeg. Voorheen bekend as Droëvrugte Tegniese dieste (DTD), het sedert verlede November in Upington ‘n kantoor.
Die rosynproduksie van Suid-Afrika verteenwoordig omtrent 40% van die Suidelike Halfrond se produksie, maar minder as 5% van die wêreldwye produksie. ‘n Derde van alle goue rosyne ter wêreld word vanaf Suid-Afrika uitgevoer. Die plaaslike bedryf produseer ‘n goeie gehalte produk wat internasionaal in aanvraag is, maar ding mee in ‘n hoëwaardemark.
“As ons kyk na die totale uitvoer van alle produksielande, het ons ‘n markaandeel van ongeveer 10% van die wêreldwye uitvoer. Ten opsigte van goue rosyntjies het ons ‘n 30%-markaandeel. Gegewe die verwagte groei in volume vir die toekoms, ondersoek ons tans ‘n geleentheid vir ‘n generiese promosieveldtog internasionaal.” sê Mnr. Ferdie Botha, hoofbestuurder van Raisin SA.
Volgens Botha is die gehalte van die rosyntjies uiters belangrik om Suid Afrika te kan onderskei van ander produksielande, veral Turkye. In enige hoëwaardemark is voedselveiligheid ononderhandelbaar soos met rosyntjies. Om seker te maak droogbaangeriewe voldoen aan internasionale vereistes is daar tans ‘n sterk veldtog aan die gang in samewerking met die raad van toesig op die uitvoer van bederfbare produkte(PPECB)
Die bedryf sal teen 2022 sowat 80 000 ton rosyne kan produseer, verwag Botha nadat die bedryf bestendige groei oor die afgelope dekade getoon het.
Dit het Raisin SA twee jaar gevat om te herstruktureer vanaf DTD. Steeds bly inligting en kommunikasie ‘n sleutelaksie so ook produksiemetodes, kostestrukture van produksie en kultivars en onderstamme.
Raisin SA word gefinansier deur statutêre heffings wat deur produsente betaal word.
Bron: Landbou.com