Die versoek aan boere om met navorsing oor die bestryding van prosopis met hommeltuie te help, het tot ongekende belangstelling gelei. Dr. Gerhard Coetzee, besturende direkteur van Haevic, ‘n hommeltuig-operateur van Noordwes, het dié navorsing aangevoor. Sy vraag aan Landbou.com om ‘n paar boere op te spoor om met die navorsing te help, is gepubliseer en dit het ongekende belangstelling ontlok. Coetzee soek een of twee Noord-Kaapse boere vir ʼn projek om hommeltuie te gebruik om prosopis te bestry.
“Haevic gebruik lang afstand-vliegtuie wat drie tot agt ure aaneen in vlug kan bly. Die vliegtuig volg outomaties ‘n vooraf opgestelde roete en gooi die gif (vir prosopis) slegs op selektiewe areas (in hierdie geval die prosopis-bos). Ons monitor die werking van die gif met behulp van infra-rooi kameras en evalueer waar daar weer gif toegedien moet word.” Dit beteken vinniger toediening met minder gif, en geen blootstelling aan nuttige weiding of veld nie, sê hy.