Die Nasionale Landelike Veiligheidstrategie was onlangs onder die vergrootglas tydens ’n strategiese gesprek tussen die minister van polisie, Fikile Mbalula, en lede van Agri SA, volgens Agriorbit. Volgens Mbalula sal ’n konkrete aksieplan in die komende weke ontwikkel word om te verseker dat produsente die nodige beveiliging teen plaasaanvalle en ander geweldskwessies in landelike gebiede ontvang. ’n Memorandum van verstandhouding sal ook onderteken word om dit te bevestig.
Hy het beklemtoon dat die oorgrote meerderheid van Suid-Afrika se produsente nie rassiste is nie, maar getroue landsburgers wat hul lewens aan voedselsekerheid wy. Hy meen hulle moet toegelaat word om hul werk in ’n veilige omgewing te doen. Tot dusver is 1 181 reserviste aangestel, wat opgelei sal word ter uitvoering van die strategie.
Die uitvoerende hoof van Agri SA, Omri van Zyl, het tydens die ontmoeting gesê hy is beïndruk met die minister se benadering tot die strategie. Hy sê produsente moet voedselsekerheid kan verseker, maar dat die landbougemeenskap tans harde bene kou. Hy glo die vennootskap sal ’n gevoel van sekuriteit in landelike gebiede bewerkstellig en dat ’n ooreenkoms belangrik is sodat beide partye aanspreeklik gehou word vir hul beloftes.
Bron: Agriorbit