Op Glenconnor se landbou-inligtingsdag in Maart is die kommerwekkende daling in pryse vir swartwitpense van R300 000 tot R200 000 bespreek.
Topwildteler, Piet du Toit, wat die bekende superbuffel Horison (die buffel is ‘n rukkie gelede vir R44 miljoen op ‘n veiling verkoop) besit het, meen dit kan die wildbedryf bevoordeel. Hy sê dat hierdie daling in pryse strook met wat trofeejagters, vanuit die buiteland, betaal om hierdie diere te jag.
Wildboere sal in die toekoms meer versigtig moet wees by veilings en word aangemoedig om eers te dink oor hul toekomstige mark voor hulle bie op veral skaars wild.
Dawie Roodt, hoofekonoom van die Efficient Group, sê Wildboere moet in ag neem dat “die pryse van selfs topbuffels kan daal sodra die nageslag toeneem – veral indien hulle ook so groot is soos Horison, want dan is daardie eienskappe nie meer skaars nie.” Hy het hierdie kommentaar gelewer op die verkoop van Piet se superbuffel.