Skaapboere in die Karoo sal volgens me. Hester Obermeyer, Gift of the Givers se koördineerder vir veevoer in die Wes- en Oos-Kaap, hul kuddes met nóg ’n derde moet verminder tensy goeie reën teen einde Maart in die somerreëngebiede val.
Boere in die distrik Sutherland het reeds hul kuddes van 400 000 skape in 2014 tot 104 000 skape in 2018 verminder. Op die oomblik is daar slegs 66 000 skape in die distrik oor.
“Ons het gesny tot op die been. Ons het nét ons kernkuddes oor,” sê Obermeyer. “Ons kán nie meer verminder nie, maar as dit einde Maart nog nie in die somerreëngebied gereën het nie, sal ons ons kuddes met nog ’n derde moet verminder.”
Gift of the Givers het die afgelope maand voer na Fraserburg, Williston, Kenhardt, Hopetown, Aberdeen, Fullarton, Rietbron, Sutherland en Tosca gestuur. Daar word reeds aan verdere vragte vir Patterson, Willowmore en Grahamstad beplan.
Lees meer op Landbou.com