Deur Lucille Botha
31 Augustus 2015
Die huidige wisselkoers-krisis bied geleenthede vir die landbou, meen ’n kenner.
Dis nou die tyd om in Suid-Afrika te glo, want hoewel die wêreldekonomie op rowwe waters vaar, is daar steeds “veerkragtige entrepreneurs” in die land wat werk en welvaart skep, meen mnr. Craig Bond, uitvoerende hoof van Absa se kleinhandel-sakebankdienste.
Die wisselkoers-krisis is ook voordelig vir die landbou- en toerismebedrywe. “Ek dink die wêreld is in ’n baie slegter ruimte as wat almal dink,” het Bond tydens die Absa Top 10 Pinotage-toekennings in die KWV se katedraalkelder in die Paarl gesê. “Daar was geen strukturele herstel na 2008 se ekonomiese resessie nie en die Chinese masjien raak al hoe stadiger. Dit gaan ’n invloed op Suid-Afrika en ander lande in Afrika hê.”
Hy sê ondanks politieke uitdagings in Suid-Afrika en die uitdagings van beurtkrag bied, tel die Wes-Kaap, Gauteng en KwaZulu-Natal steeds onder die snelgroeiendste ekonomieë in die wêreld. Al drie groei tussen 4% en 7%. “Daar is nog lewenskragtigheid in ons ekonomie en ons belê baie geld in entrepreneurs. Daar is dus nog ’n vermoë om werk en welvaart te skep en dis nie nodig om slapelose nagte oor die toekoms te hê nie.”
Hy sê mense moet positief wees oor die swak Rand, want dit bring groot toerisme-geleenthede en voordele vir die landbou. “Ek sien lig in die tonnel. Dis nou die tyd om in die nasie te glo, want die land gaan nie oor die paar politici nie, maar oor die mense wat hier woon.”
Lees meer op die Landbouweekblad webtuiste deur om hier te kliek.