Die grootste fout wat sommige boere in droogtetye maak, is om die mees goedkoopste en droogste ruvoer aan te koop.
In droogtetye is energie die mees beperkende voedingstof op die plaas, meen meneer CT du Plessis, Voermol se verkoopsbestuurder vir die oostelike streek. “Dit is ’n fout om dan die goedkoopste, droogste ruvoer te kry. Dit is vir jou diere én jou beursie op die lang-termyn meer werd om minder kilogramme van voer van ’n goeie gehalte te kry.”
Du Plessis en dr. Francois van de Vyver, Voermol se nasionale tegniese bestuurder, het op ’n boeredag op Mooirivier, in KwaZulu-Natal, gepraat. Van de Vyver verduidelik dat een ton mielies net soveel voedingswaarde het as agt ton koringstrooi. “Die relatiewe voedingswaarde en die koste per eenheid energie is belangrike aspekte om in ag te neem.”
Du Plessis verduidelik dat laegehalte-ruvoer smaakliker gemaak kan word deur melasse by te voeg. Dit help om die energiewaardes te vermeerder, die verteerbaarheid te verbeter, terwyl dit ook ryk aan ander voedingstowwe is.
Hy beveel ook kruipvoer aan, aangesien die ekstra voer minder druk op koeie sit. Hy stel ook voor dat boere by hul klaftyd/ dektyd hou, aangesien dit die ritme van die boerdery behou.
“Die gulde reël is om jou beesboerdery so normaal moontlik te hou sodat jy in die beste posisie moontlik is om vinnig te herstel as die reën weer kom,” verduidelik Du Plessis.
Lees die Landbou.com berig hier.