Drie SA abattoirs en ʼn voerkraal kan nou skape van Namibiese uitvoerders ontvang. Die nakoming van die vereistes vir die invoer van rooivleis uit Namibië is deur die Rooivleisprodusente-organisasie verwelkom. Dit volg nadat hersiene regulasies vir die invoer van Namibiese vee na Suid-Afrika op 1 Julie in werking getree het. Die vier goedgekeurde geriewe is die Cartol-abattoir in die Wes-Kaap, die GWK-abattoir en -voerkraal en die Rooidag-abattoir, almal in die Noord-Kaap.
Mnr. Willie Clack van die RPO sê dit is verblydend om te sien dat invoerders nou uiteindelik hul administrasie rondom die operasionele prosedures ten opsigte van die invoer van slagdiere uit die buurland nakom. Volgens Clack rus die onus op individuele invoerders om die operasionele prosedures na te kom om skape uit Namibië in te voer, soos die aansoek van vier plaaslike voerkrale of slagplase wat onlangs goedgekeur is. Na verwagting sal die aansoek van nóg 15 invoerders binnekort goedgekeur word.