Die pryse van veevoer in Suid-Afrika styg steeds, terwyl die droogte verdere verwoesting saai.
Meneer Frans Linde, bestuurder van lusern en veevoer by GWK, het verduidelik dat eerstegraad-lusern gemiddeld al R2 100 per ton kos. Verlede jaar se somerpryse was gemiddeld R1 750 per ton. Dit is ’n styging van tussen 17% en 22%. Hy gaan aan deur te sê dat slegs reën dié styging kan teenveg.
“As dit voor einde Desember goed reën, kan ons ’n daling van sowat R200 per ton sien,” voorspel hy.
Die pryse van ander ruvoer het ook hoog geklim. Koringstrooi beloop gemiddeld R850 per ton, in vergelyking met R550 per ton dieselfde tyd, verlede jaar.
“Die grondboonbedryf is erg geraak deur die droogte en daar is min aanplantings. Hoewel min sonneblomme aanvanklik aangeplant is, lei meer reën dalk tot meer aanplantings. Nou bly pryse styg.”
Professor Johan Willemse, ’n Vrystaatse landbou-ekonoom, se syfers toon dat die Safex-geelmielieprys in die eerste week van Desember verlede jaar R2 041 per ton was. Dit is tans R3 423 per ton.
Lees die Landbou.com artikel hier.