Sponssiekte is ’n baie algemene siekte onder beeste en kom tot ’n mindere mate ook by skape voor. Daar is nie eintlik ’n aanloop tot die siekte nie, maar die besmetting van diere lei gewoonlik tot akute vrektes. Dit kan vir lang tye rustend bly voordat dit weer toeslaan en het al duisende stuks vee regoor Suid-Afrika se dood beteken.
Die bakterie Clostridium-bakterieë, wat verantwoordelik is vir siektes soos sponssiekte, teiken veral groeiende diere tussen die ouderdom van nege maande en twee jaar, wat in ’n goeie kondisie is en op goeie weiding loop.
“Die spore van Clostridium chauvoei, wat die siekte veroorsaak, kan ook vir maande dormant in ’n dier se liggaam bly. Wanneer die dier ’n besering opdoen in sy groot spiere, soos die agterkwart, dye en skouers, begin dit vermeerder en produseer dit toksiene en gas wat tot vrektes kan lei. By skape en bokke word wonde besmet ná skeer- of lamtyd,” sê dr Faffa Malan.
Voorkoming en behandeling
Daar is nie juis kans vir behandeling nie en daarom moet diere vroegtydig ingeënt word, sê Dok Faffa. ’n Groot verskeidenheid entstowwe teen sponssiekte is beskikbaar – enkel- en ook multiklostridiale entstowwe.
“Indien diere steeds vrek nadat die entstof korrek toegedien is en as diere wat vir die eerste keer ingeënt is ook ’n skraagdosis gegee is, moet ’n veearts ondersoek instel. Smere word van die lewer en spierletsels geneem en na ’n laboratorium gestuur vir ondersoek en bevestiging van die diagnose. Die korrekte entstof kan dan toegedien word.
“Indien ’n uitbreking op ’n plaas voorkom, kan al die vatbare diere wat dalk in die inkubasietydperk van die siekte is met ’n antibiotika behandel word,” verduidelik hy.
Dok Faffa beklemtoon dat dit belangrik is om elke jaar al ’n mens se diere teen sponssiekte in te ent, asook teen miltsiekte en lamsiekte.
Lees meer oor die verspreiding van infeksie en algemene siektetekens op AgriOrbit