Danksy moderne tegnologie is die manier waarop boere hul wild teel aan die verander. Dit gaan nou, soos met veeteelt, met metings, wegings en ontledings gepaard. Toetse kan nou uitgevoer word om vaderskap in die geval van veral skaars wild te bewys, genetiese eienskappe te bepaal en selektiewe paring tussen ’n bepaalde bul of ram en vroulike diere te doen ter wille van bepaalde haarkleur, horinggroei en liggaamsgewig.
Dit verbeter dan ’n boer se kans om bokke met ’n uitsonderlike horinglengte of bepaalde gesogte kleure te teel. DNS-toetse help ook om genetiese variasie moontlik te maak en om stambome vir verskillende wildsoorte op ’n plaas te bou. Vrugbaarheid en reproduksieprestasie is egter steeds baie belangrik in seleksiebesluite.
Dr. Paul Lubout, besturende direkteur van Wildstoetdienste in Suid-Afrika wat die simposium aangebied het, het op ’n wildseminaar in Windhoek gesê dit is belangrik dat wildboere hul wild meet en weeg.