Bosluise word jaarliks geassosieer met groot ekonomiese verliese in terme van verlaagde produktiwiteit en vrugbaarheid, asook veevrektes. Bosluise kan ook siektes van besmette na gesonde diere oordra.
Volgens ’n studie deur die Universiteit van Pretoria oor bosluise en bosluisoorgedraagde siektes in die Oos-Kaap, dra bosluise ’n groter verskeidenheid patogeniese mikroörganismes as enige ander geleedpotige vektor oor. Babesiose is een van hierdie siektes, met dodelike gevolge vir beeste.
Wat is babesiose?
Babesiose, oftewel rooiwater, is ’n protosoïese bosluisoorgedraagde siekte wat meestal by beeste voorkom, hoewel dit ook aan perde en honde oorgedra kan word. Die twee soorte babesiose wat in Suid-Afrika voorkom is Afrika-rooiwater en Asiatiese of Europese rooiwater.
Waar Asiatiese rooiwater slegs deur die Asiatiese bloubosluis (Rhipicephalus microplus) versprei word, word Afrika-rooiwater deur beide die Asiatiese bloubosluis en die Afrika-bloubosluis (Rhipicephalus decoloratus) oorgedra. Die rooipootbosluis (Rhipicephalus evertsi evertsi) is ook ’n vektor van Afrika-rooiwater, maar speel ’n kleiner rol in die verspreiding van die siekte.
Verspreiding van rooiwater
Volgens die jongste veesiektetendenseverslag wat deur veeartse aan die Herkouer Veterinêre Vereniging van Suid-Afrika (RuVASA) aangemeld word, is Asiatiese rooiwater aan die toeneem.
Gevalle van Asiatiese rooiwater word gereeld in Limpopo, Gauteng, KwaZulu-Natal, Mpumalanga en in dele van die Oos- en Wes-Kaap aangemeld. Gevalle van Afrika-rooiwater is in byna elke provinsie aangemeld, behalwe in droër gebiede soos die Noord-Kaap en die Karoo.
Al kom die siekte nie normaalweg in ’n sekere gebied voor nie, beteken dit nie produsente kan ontspan nie. Daar moet voorkomend teen hierdie siektes opgetree word, aangesien veeboere sowel as veeartse toenemend onkant betrap word deur die toename in Asiatiese rooiwater, selfs in gebiede waar dit nie normaalweg voorkom nie.
Die bekende veearts, Dr Faffa Malan, sê dat hierdie siektes hoofsaaklik deur die vervoer van diere versprei word en dat besmette bosluise dan so van plek tot plek verskuif.
Lees meer op AgriOrbit.