Ons spesialiteit
KLK is trots op die verskeidenheid en samestelling van sy besigheidseenhede.
Die maatskappy is betrokke by die verskaffing van landboubenodighede, boumateriaal, brandstof, vleisverkope, huide en velle sowel as die verpakking en uitvoer van rosyne.
Ons storie
Die ontstaan van KLK – of SAKK soos dit voorheen bekend gestaan het – is sinoniem met karakoelpels. Sedert die eerste elf karakoelskape in 1907 uit die destydse Suidwes-Afrika ingevoer is, het die bedryf snel ontwikkel. Die behoefte om georganiseerde optrede was van meet af ʼn prioriteit onder karakoelprodusente. Dit het dan ook gelei tot die stigting van dié koöperasie op 24 September 1941. Op 28 November 1941 word SAKK amptelik as ʼn koöperasie geregistreer.
Stories rondom die begindae is legio – veral die stories rondom die smokkel van karakoelskape snags oor die grens wat vandag nog dikwels oorvertel word. Die koöperasie het gou sy voete gevind en was instrumenteel tot die groei van die bedryf. Met die loop van die jare is die behoefte van lede aangespreek ten opsigte van die insetkant en is die Handelsafdeling tot stand gebring waarvan die omset in 2022 die R600 miljoen kerf verbygesteek het. Soos dit met heelwat landboubedrywe gaan, het ʼn paar faktore daartoe gelei dat die prys van die pelse gedaal het en die produksie daarvan drasties begin afneem het. Dit is interessant dat die produksie van pelse aan die einde van die sewentigerjare meer as 2 miljoen was en vandag afgeneem het tot minder as 20 000 pelse per jaar.
Die Direksie het besluit om te diversifiseer en in 1982 is begin met die bemarking van vleis. Die daling in pelspryse het daartoe gelei dat die boere hoofsaaklik na dorperboerdery oorgeskakel het en het indirek daartoe gelei dat die maatskappy vandag betrokke is by veilings, verslagting en uit-die-hand transaksies.
ʼn Verdere belangrike gebeurtenis was toe SAKK die belange van BKB in die Noord-Kaap uitgekoop het. Een van die voorwaardes was dat die koöperasie se naam verander en sodoende het Karakoel- en Lewendehawe Koöp. Bpk. tot stand gekom. Daarna het die onderneming toegetree tot die motorbedryf en brandstof, ʼn versekeringsafdeling is gevestig, voerkrale is opgerig en die abattoir op Upington is bekom. In die proses het almalgamasies met Trans-Oranje Koöperasie sowel as Kenhardt Vleiskoöperasie gesorg vir die byvoeging van nuwe takke op Rietfontein en Keimoes onderskeidelik, is bygevoeg. Hierdie gebeurtenisse het KLK-Koöp se bedryfsgebied aansienlik vergroot en ruimte geskep om finansieel te oorleef en te groei.
Die koöperasie is op 17 September 1997 omskep in ʼn maatskappy met aandeelhouers wat soortgelyk was aan die lede van die koöperasie. Daar was geen keer aan KLK se groei nie en oor die volgende tien jaar word die veilingsentra’s van Karoo Osche te Kuruman, Postmasburg en Olifantshoek; handelstakke van Suidwes Beleggings te Kuruman en Hotazel; Oranje Meganies met die Nissan agentskap en vulstasies; Hamiltons en Carnarvon Abattoir; Verspreidingsdepot van BP Petroleum op Upington en ook Wes-Karoo Koöperasie wat insluit handelstakke, vulstasies en ʼn abattoir, bygevoeg.
Gedurende die afgelope tien jaar het die ontbondeling van Meattrust/Just Lamb plaasgevind en KLK het sy eie vleisbemarkingsketting gevestig. Vier Build it boubenodighede-winkels op Kathu, Kuruman, Postmasburg en Upington is ook tot sy handelsnetwerk toegevoeg.
Die Thembeka SEB-transaksie is ontbind waarna die 20% belang in KLK teruggekoop is. ‘n Beeshuid-verwerkingsaanleg (natblou) te City Deep verkry, wat deel vorm van die SA Dorper Groep waar dorpervelle berei word vir die Italiaanse modemark en huide in natblouvorm vir die motorindustrie verwerk word. In 2014 is 'n 50%-aandeel in Carpe Diem Raisins verkry. In Mei 2023 het KLK die laaste 20%-aandeel in Carpe Diem Raisins verkry en besit nou 'n 100%-aandeel.
Senwes, is die meerderheidsaandeelhouer in KLK met 57,83% van die aandele. Voor die Senwes-oorname het KLK ongeveer 2 000 aandeelhouers gehad. Subtropico / Yabeng is die tweede grootste aandeelhouer met 34,19% en dan die oorblywende aandeelhouers wat bestaan uit 7.98%. Vandag bestaan KLK uit 671 aandeelhouers.
Dit is op hierdie nalatenskap van durf, daad en deursettingsvermoë uit die verlede dat KLK die toekoms met visie en vertroue aanpak om die volgende doelpaal te bereik.
Dit is die geskiedenis van KLK in ‘n neutdop – die verhaal van die veeboer se eie organisasie in hierdie harde, maar tog ook dankbare en oorvloedige wêreld wat gegroei het tot ‘n dinamiese maatskappy met ‘n omset van meer as R3 miljard per jaar.
Hoofkantoorgebou
Die hoofkantoorgebou wat op 26 Mei 1988 amptelik ingewy is.
Die hoofkantoorgebou soos dit vandag lyk.
Om landbouverwante oplossings te lewer ter bereiking van ons besigheidsdoelwitte in die verkryging, verwerking, verskaffing en verkoop van landboubenodighede, produkte, dienste en produkte vir nismarkte, tot voordeel van alle belangegroepe.
- Behoeftegedrewe
- Deelnemend
- Integriteit
- Resultaatgedrewe
- Dinamies & innoverend
KLK: 80 Jaar
Tydens ’n vergadering in die Gordonia-hotel te Upington op 24 September 1941, stig 21 belangstellendes die Suid-Afrikaanse Koöperatiewe Karakoeltelersmaatskappy Bpk (SAKK). Op 28 November 1941 word SAKK amptelik as koöperasie geregistreer.
Die droё klimaat van die noordwestelike dele van die land het oor jare ’n groot invloed op die denke van die mense van die gebied gehad. Risiko’s word versigtig, gedissiplineerd en met verantwoordelikheid bestuur. KLK is deurlopend só bestuur en daar kan vandag met trots oor die 80 jaar teruggekyk word. Deur die jare het KLK die vermoë gehad om van rigting te verander wanneer dit nodig was.
Die vermoë om op ’n volhoubare finansiële basis dienste te lewer aan die mense van die noordweste, loop soos ’n goue draad deur die afgelope 80 jaar. Ons bring hulde aan elke toegewyde lid van die KLK-personeel, ons kliënte en aandeelhouers oor agt dekades.
Kobus Marais
Voorsitter
JA (Jimmy) Connan, voorsitter 1950 - 1957, 1959 - 1965 en 1966 - 1977
Na 8 dekades steeds 1ste
Eerste karakoelskape word ingevoer.
Eerste georganiseerde vergadering van karakoelprodusente lei tot die stigting van die Karakoeltelersvereniging (KTV).
Eerste besending (853) karakoelpelse word na Londen versend.
Eerste noemenswaardige krisis vir die KTV duik op toe dit weens die Tweede Wêreldoorlog nie meer raadsaam was om pelse Londen toe te stuur nie.
Eerste registrasie van die Suid-Afrikaanse Koöperatiewe Karakoeltelersmaatskappy (SAKK) as koöperasie.
Die eerste sekretaris van die nuwe koöperasie was F le R Minnaar wat die pos tot sy bedanking in 1958 beklee het.