Kort op die hakke van die vrystelling van die eerste Genomiese Teelwaardes vir Vleisbeeste vir Bonsmaras, laat toets die eerste Bonsmara-kudde elke dier in die kudde. Boeram Venter, eienaar van Disco Bonsmara-stoet naby Kirkwood, het besluit om die voordele wat genomika bied, ten volle te benut.
Volgens Japie van der Westhuizen, hoofbestuurder by die SA Stamboek en Dierevebeteringsvereniging, verlaag die insluiting van genomiese profiele in die voorspelling van die genetiese meriete van potensiële teeldiere, selfs op ’n baie jong ouderdom, die risiko dat die BLUP-teelwaardevoorspelling later radikaal sal verander.
“Die voorspellingsakkuraatheid van die BLUP-teelwaarde waarby genomiese inligting ingesluit is, is dus hoër. Veral eienskappe wat nog nie op die betrokke dier gemeet is, of gemeet kan word nie, soos melk (maternaal), koei-volwassegewig en vers- en koeivrugbaarheid vir bulkalwers, baat met genomiese teelwaardes.
Dieselfde geld vir eienskappe soos oogspieroppervlak, marmering en voerinname, wat net op bulkalwers gemeet word.”
Bevestig ouerskap met presisie
Japie van der Westhuizen brei verder uit. “Nog ‘n geweldige voordeel waar kalwers en hulle ouers se genomiese inligting bekend is, is die presisie waarmee ouerskap bevestig of selfs opgespoor kan word. Die genomiese toetse wat SA Stamboek bied, bevat meer as 35 000 basispare op die chromosome van elke dier, wat as merkers dien om die presiese verwantskappe tussen diere aandui.
Waar huidige ouerskaptoetse op ’n ‘uitsluitingsbeginsel’, met ander woorde ‘onmoontlike ouers’ uitwys, werk genomiese inligting op ’n ‘insluitingsbeginsel’, met ander woorde die spesifieke ouer word bevestig.”
Bron: AgriOrbit