Ná goeie reën in die Noordelike gedeeltes van die Noord-Kaap lyk dit asof die wêreld stadig maar seker terug keer na sy ou self, maar in die sentrale gedeeltes is die situasie nogsteeds benoud. Elria Steinberg van Boks vir ‘n Boer doen ‘n roep op almal om steeds aktief betrokke te raak by droogtehulpondersteuning, soos die Boks vir ‘n Boer-inisiatief wat boere help om maandelikse voeraankope te betaal.
“Dit is moeilik om te besef dat daar nog geen uitweg vir daardie [sentrale] gedeeltes was nie. Daar heers sewe jaar droogte wat nou na jaar agt oorloop. Daar het wel strepies reën van 15 mm tot 30 mm geval, terwyl die gemiddelde reënval van 200 mm tot 280 mm is.”
Boks vir ‘n Boer poog om boere in areas waar daar byna geen weiding oor is nie, by te staan.
“Die boere meng daagliks voer. As ons as Jan Publiek moeg is om te hoor van die droogte, hoe dink jy voel daardie boere en hul gesinne?”
Boere kon nagegenoeg 5 000 sakke voer, oftewel sowat 252 bakkievragte van 20 sakke elk, aankoop met die help van die projek wat verlede jaar in Julie op die been gekom het.
Steinberg meen dat mense wat tot nou toe nog nie by droogtehulpprojekte betrokke geraak het nie, maar steeds wil, kan nou steeds werklik ‘n verskil maak.
“Klim saam met ons in die skoene van ‘n bier wat al meer as agt jaar snags rondrol en wonder waar die volgende dag se voer vir sy diere vandaan gaan kom.”
Ondersteun Boks vir ‘n Boer hier.
Bron: Landbou.com