Die getal van mielieboere in Suid-Afrika is besig om af te neem.
Op ’n onlangse vergadering van die Mielieforum het dit aan die lig gekom dat die mielieboere verminder het van 7 562 in 2010 tot 4 399 vanjaar. Oorblywende boere beplant egter meer hektaar per boer. In 2010 was die gemiddelde 363 ha per boer, en vanjaar was dit 527 ha. Sowat 217 000 ha (9%) van die mielies was onder besproeing.
Mnr. Jaco Minnaar, voorsitter van Graan SA, het die afname toegeskryf aan gebrekkige winsgewindheid en ’n ooraanbod.
By die vergadering was daar ook ’n verband tussen die sukkelende mieliemark en die grootskaalse invoer van hoendervleis uitgewys.
“As meer mielies uitgevoer en minder hoendervleis ingevoer word, sal die vraag en aanbod meer in balans wees. As daar nie hoendervleis ingevoer word nie, kan die plaaslike pluimveebedryf in so ’n mate uitbrei dat ’n bykomende 2 miljoen ton mielies vir voer benut word. Só kan die landbou gebruik word om werk te skep,” het Minnaar gese.
Oorskat
Daar is aanduidings dat vanjaar se mielie-oes van 12,9 miljoen ton dalk met sowat 3% oorskat is as dit vergelyk word met die fisieke lewerings tot dusver en die gemiddelde lewerings teen hierdie tyd die afgelope vyf jaar.
Wat die produksie van mielies vanjaar betref, kom 42% uit die Vrystaat, 22% uit Mpumalanga, 17% uit Noordwes, 5% uit KwaZulu-Natal, 5% uit die Noord-Kaap en 8% uit die res van die land. Die distrikte waar die meeste mielies verbou is, is Lichtenburg (5,3%), Bothaville (4,9%) en Middelburg (3,9%).
Die finale skatting word in Februarie 2019 gedoen.
Lees meer op Landbou.com