Vir verskeie distrikte in Suid-Afrika is die droogte steeds ’n aaklige werklikheid.
Die klein boeregemeenskap van Migdol in die Noordwes het hul harte en hande oopgemaak en byna R1 miljoen met ’n droogtehulpfees ingesamel. Dié droogtehulpfees is deur meer as 1 200 mense bygewoon, waar daar heerlik feesgevier was.
Mnr. Retief Riekert, ’n boer van Migdol was die stille krag agter dié fees, wat ook gespog het met ’n veiling van diere wat deur boere geskenk is, wat R200 000 ingebring het.
Boere van Williston, waar dit steeds baie droog is, het onder meer 100 skape vir die veiling geskenk om dankie te sê vir hulp wat hulle ontvang het toe die nood op sy hoogste was.
Dit is veral in die Noord-Kaap waar hulp dringend benodig word. Die Noord-Kaap is steeds droog in dele waar daar ses jaar laas behoorlik gereën het.
Volgens Burre Burger, ’n sakeman van Vredendal is daar ook nood in distikte soos Beaufort-Wes, Aberdeen in die Oos-Kaap en Bitterfontein in die Wes-Kaap. “Dit reen net kol-kol vanjaar. Daar is dus steeds dringend hulp nodig.”
Lees meer oor die droogtehulpfees op Landbou.com