Mnr. Paul Makube, senior landbou-ekonoom van Eerste Nasionale Bank (FNB), het goeie nuus vir veeboere wat tans onder moeilike toestande gebuk gaan. Rooivleispryse bly tans styg namate rooivleisprodusente diere terughou in die hoop dat weidingstoestande sal verbeter as dit binnekort sou reën. Tesame daarmee behoort ’n hoër vraag na rooivleis oor die feestyd rooivleispryse te laat styg, sê Makube.
“Rooivleispryse sal na verwagting met minstens 9% tot 15% styg teen Desember, aangesien die vraag na rooivleis oor die feestyd hoër is,” sê hy. Wat beesvleis betref, sê Makube die bedryf beweeg na ’n seisoenale prysverhoging van R3,40/kg tot R5,70/kg vir beesvleis (Agraad), veral met die braaiseisoen wat voor die deur lê. “Verbruikers wat verkies om ’n skaaptjoppie op die vuur te sit, kan verwag om R5,60 tot R9,40 meer vir lam (A-graad) oor die feestyd te betaal,” sê hy.