Enkele gedeeltes van die Noord-Kaap het in die laaste naweek van April goeie reën gekry, maar boere is steeds bekommerd oor die jaar wat voorlê. Dié boere sal nog ‘n jaar vir reën in die optimum groeiseisoen moet wag nadat groot dele die sesde opeenvolgende reënseisoen ondergemiddelde reënval ontvang het.
10 tot 20 mm reën is deur Jan-Frederick van Schalkwyk op sy plaas naby Williston gemeet, terwyl Bertus Steenkamp wat by Carnarvon boer 16 mm tot 30 mm reën aangemeld het. Op die plaas Skuinshoogte tussen Calvinia en Williston is 100 mm gemeet. Steenkamp sê verder dat dit by Loxton 30 mm gereën het.
Mnr. Willem Symington, van die plaas Leeuwkrantz by Williston, sê al is dit ietwat laat in die seison, is reën altyd welkom.
“By ons help reën enige tyd van die jaar. Onthou, skaap vrek nie op nat grond nie. Dis wel laat in die groeiseison en daarom sal die gras nie meer groei nie, maar as die erge ryp nog so twee of drie weke wegbly, sal die bossieveld reageer,” verduidelik Willem Symington.
Ten spyte van dié reën staan die Noord-Kaap steeds gebuk onder droogte en Symington voer aan dat hulle ‘n bitter moeilike jaar gaan hê as hulle nie die regte oorvloedige reën ontvang in die laaste deel van herfs wat nog oor is nie.
“Die reserwe op die veld is skraps weens ondergemiddelde reën in die die tradisionele reëntyd. Boere se kuddes is tot op die basiese vlakke gesny.”
Volgens CP van der Merwe, voorsitter van Agri Fraserburg, benodig boere meer volhoubare hulp wat gestruktureerd moet wees (soos om boere se bankbalanse te help balanseer).
“Ouens sal gehelp moet word, al moet ons die klippe in die Karoo verkoop om iets te doen om die boere se bankbalanse te help balanseer. Iets om kos op boere en hul werkers se tafels te sit op langer termyn.”
Lees meer hier.