Boere moenie met oogklappe na Suid-Afrika se landbou-toekoms kyk nie
Tydens ‘n landbou-vooruitskouing in Centurion het Wessel Lemmer, senior ekonoom van Absa Agribesigheid opgemerk dat dit dalk nou ‘n baie goeie tyd kan wees om in die landbou en landboutegnologie te belê om produktiwiteit en mededingendheid te verbeter.
Hy het in ‘n ekonomiese oorsig gesê boere bevind hulle in ‘n gunstige groeisektor. “Elke jaar neem die wêreldbevolking met 88 miljoen mense toe. Dit is meer as die bevolking van Duitsland (23 miljoen).”
Hy sê om die beste moontlike voordeel te trek uit uitvoermarkte, moet Suid-Afrika daarteen waak om nie alle landbou-uitvoer en bilaterale ooreenkomste op die wêreld se mees digbevolkte lande te rig nie. Suid-Afrika moet lande identifiseer met die hoogste verwagte groei in bruto binnelandse produk (BBP) per kop teen konstante pryse.
In Asië sluit dit lande soos Mianmar, Indië en Bangladesj in. In Afrika sluit dit Ethiopië, Mosambiek, Rwanda en Tanzanië in.
Nuutste kredietafgradering
“Soos sake nou staan, het die rand verswak van R13,85 tot R14,10. Vir elke sent wat die rand swakker is, maak dit R3/ton verskil aan die mielieprys en dit skep geleenthede waarvan ‘n boer bewus moet wees”, sê Lemmer.
“Die Suid-Afrikaanse landbou is egter hoofsaaklik uitvoergedrewe en sodoende in ‘n mate verskans teen die nadelige impak van ‘n krediet-afgradering. Om dié rede moet verdere beleggings in die landbou in sulke onstuimige tye nie oor die hoof gesien word nie.”
Wisselkoers verwagtinge
Volgens Lemmer is Absa se verwagtinge van die wisselkoers vir volgende jaar, met die jongste afgradering, R14,60 in Julie en R14,90 in Desember.
Hy glo netto plaasinkomste en winsmarges sal onder druk bly namate insetkoste en skuldvlakke toeneem, sê Lemmer. Die verwagting is egter dat die landboubedryf beduidend sal herstel ná die algemene verkiesing in 2019.
Weervooruitsigte
Oor die weervooruitsigte wat saam met mnr. Johan van den Berg, weerkenner van Santam Landbou gedoen is, sê Lemmer bogemiddelde reënval word tot einde Maart verwag.
“Daar is ook nou ‘n groot waarskynlikheid dat ‘n La Nina kan ontwikkel. Dit kan lei tot bogemiddelde reënval in die sentrale en westelike dele van Suid-Afrika, insluitend die westelike dele van die Noord- en Wes-Kaap. Minder reën kan oor die oostelike produksiegebied voorkom.”
Bron: Netwerk24