Die Regering gaan met die sakesektor saamspan om ’n groeifonds vir die landbou op die been te bring, het mnr. Jeff Radebe, Minister in die Presidensie gesê. Hoewel Radebe nie spesifieke besonderhede oor die groeifonds kon gee nie, het hy aangedui dat dit verband hou met die inisiatiewe vir die landbou soos uitgestippel in die Regering se negepuntplan.
Die herlewing van die waardeketting van die landbou en landbouverwerking vorm deel van die negepuntplan wat daargestel is om spesifieke sektore te stimuleer vir beter ekonomiese groei. Die landbousektor speel nie net ’n rol by die voorsiening van die land se voedselvoorraad nie, maar is ook van belang vir die groeiende energievoorsiening wat biobrandstof moet lewer en kan ook ’n groot stukrag vir uitvoer-inkomste wees.