Die eerste bodfase 4-windkragaanleg in die Noord-Kaap, die Kangnas-windkragaanleg, het pas met kommersiële bedrywighede begin. Die windkragaanleg is buite Springbok geleë en sal genoeg skoon energie opwek om krag aan net meer as 150 000 gemiddelde Suid-Afrikaanse huishoudings te voorsien. Die windkragaanleg sal gedurende sy geraamde lewensduur van 20 jaar, elke jaar sowat 513GWh hernubare energie opwek.
’n Trots Suid-Afrikaanse windkragaanleg
Die windkragaanleg is deur ’n trots Suid-Afrikaanse span gebou, met meeste van die arbeidsmag wat uit die Nama Khoi-munisipaliteit gewerf is. Die massiewe 14OMW-windkragprojek beskik oor 61 turbines en is een van twaalf windkragaanlegte wat tydens hierdie verkrygingstydperk gebou is.
“Hierdie nuwe windkragprojekte sal gesamentlik help om die land se opwekkingskapasiteit met 1,3GW te verbeter, in ’n tyd wat meer energie benodig word om Suid-Afrika tydens die post-COVID-19-era te herbou,” sê Manie Kotzé, konstruksiebestuurder van die Kangnas-windkragaanleg.
Plaaslike gemeenskappe trek voordeel uit die projek
Die gemeenskappe van Nababeep, Springbok, Concordia, Matjieskloof, Bergsig, Okiep en Carolusberg sal gedurende die kommersiële fase direk uit ontwikkelingsprogramme baat, wat daarop gemik is om veerkragtigheid en plaaslike kapasiteit te verbeter. Verskeie van hierdie ontwikkelingsprogramme is reeds tydens die konstruksiefase uitgerol.
Tot op hede is studiebeurse aan studente van die plaaslike gemeenskap toegeken, maatskaplike- en COVID-19-verligtingshulp verleen, vroeëkinderontwikkelingsinisiatiewe befonds en suurstofmasjiene aan ’n plaaslike gesondheidsorgsentrum in Springbok geskenk.
Lees meer op AgriOrbit.