Sterk leierskap is nodig om innoverend te wees met markte en handelsmerke en só die prys van druiwe en wyn te verhoog om die sukkelende wynbedryf meer winsgewend te maak.
“Die bedryf sal waarskynlik 8-10% van sy wingerde uittrek omdat dit onwinsgewend is en omdat sitrus en pekanneute op die toneel verskyn,” het mnr. Rico Basson, hoof-uitvoerende beampte van VinPro, gesê tydens Wineland se seminaar om innovasie in die wynbedryf aan te wakker. Volgens dr. Adriaan Oelofse van Winetech is dit nie ’n geheim dat net 15% van die wynbedryf tans winsgewend is nie. Sowat ’n derde boer teen ’n verlies.
“Boere se primêre koste het die afgelope tien jaar verdubbel en die bruto marges het die laaste vier jaar dieselfde gebly. Die gapings raak dus net groter en groter. Die bedryf veg om oorlewing en ons het sterk leierskap nodig om druiweboere te red en te ondersteun. Ons het ook rigting nodig met grootmaatwyn-pryse en hoe om wyn te verpak en uit te voer vir die millennial-verbruikers.”