Daar is ʾn jagmark vir kleurvariante, sê die megawildboer mnr. Piet du Toit. Hy het as gasspreker by die onlangse veiling van die Bloodline Groep in Bela-bela gesê daar heers tans baie vrae in die wildbedryf en almal is op soek na antwoorde. Du Toit sê sommige telers het die afgelope tyd ernstig gekyk na maniere om waarde in sekere wildspesies te ontsluit. “Ons weet ons kan nie net aanhou teel met ʾn kleur nie, ons moes iewers ʾn jagmark kry.”
Hy sê die mark is oor die laaste paar weke getoets en vier swart rooibokramme is deur Amerikaanse kliënte gejag teen pryse wat van VS$6 000 (R91 000) tot VS$8 000 (R121 000) gewissel het. “Daar is dus ʾn onderliggende jagmark en as ons na daardie punt toe beweeg en ʾn mens gaan weeg dit op teen beeste en skape, dan sien jy, ons kan nog ʾn goeie lewe maak,” sê Du Toit.