Die rampdroogte in dele van die Noord-Kaap is nog nie gebreek nie, sê mnr. Johan van der Colff, provinsiale voorsitter van die Rooivleisprodusente-organisasie.
Hy het op die organisasie se jaarkongres gesê op sommige plase het die weiveld goed herstel, maar die ramp is nog nie oral opgeklaar nie.
In sy voorsittersrede het Van der Colff aangedui dat die totale droogtehulp van die staat aan boere in die Noord-Kaap sowat R126 miljoen was. Kommersiële boere in rampgebiede het ook in April en Mei hulp ontvang, met die belofte van nog hulp in Junie.
“Daar is uit alle oorde van die land hulp gegee en ons as oorwegend kleinveeboere kon met dié hulp op ons plase bly,” sê hy.
Staan saam
Mnr. Henk van Wyk, voorsitter van Agri Noord-Kaap, sê die onsekerheid wat tans rondom grond en die eienaarskap daarvan bestaan, maak dit selfs belangriker dat die georganiseerde landbou saamstaan om eiendomsreg te beskerm.
“Die rol wat die staat moet speel ten opsigte van voedselsekerheid en grondhervorming behoort verder bespreek te word.” Van Wyk het hom op die instandhouding van Suid-Afrika se Grondwet beroep, asook die onderhandelingsvermoë van ’n eensgesinde landbou- en sakesektor om beleidsekerheid en realisme in die land te laat seëvier.
Bron (Artikel en Foto): Landbou.com