Die huidige uitstekende seisoen vir somersaaigewasse het bygedra tot ‘n nuwe rekordgetal van 78 648 besoekers tydens Graan SA se afgelope NAMPO Oesdag, volgens ProAgri. Besoekers se positiwiteit was inspirerend en heelwat van die meer as 700 uitstallers rapporteer dat hulle goeie besigheid gedoen het.
“Laasjaar hierdie tyd het produsente midde-in die ergste droogte in dekades mekaar tydens die NAMPO Oesdag moed ingepraat en planne uitgeruil. Hierdie jaar deel ons in mekaar se vreugde met die belowende oes wat op hande is,” het Jannie de Villiers, uitvoerende hoofbestuurder van Graan SA, gesê.
“Die publiek geniet die hartlike atmosfeer en hulle is honger vir inligting oor hoe die landboubedryf die toekoms help ontsluit. Lede van ‘n Europese handelsending na die Oesdag het selfs verwys na die familiegees en geborgenheid wat hulle tussen oesdaggangers ervaar het.”
NAMPO se hoofdoel is om boere en verskaffers by mekaar uit te bring, maar die belangrikheid van netwerking en die vorming van vennootskappe en betrekkinge is ‘n sleutelfaktor waarsonder die landboubedryf nie kan oorleef nie. Verskeie besoekersgroepe uit Afrika, buurlande asook plaaslike politici is tydens die Oesdag deur Graan SA ontvang en te woord gestaan. Buitelandse besoekers wat op die uitkyk is vir plaaslike vennootskappe en verspreidingsgeleenthede is ook ‘n algemene gesig by die Oesdag.
Klik hier om meer te lees.