Onderstepoort Biologiese Produkte (OBP), wat gesukkel het met die voorsiening van sy entstowwe, wil ’n wêreldspeler word wanneer die modernisering van sy geboue voltooi is.
Dié regeringsentiteit het die afgelope twee jaar veral onder skoot gekom weens entstowwe wat nie geredelik beskikbaar was nie. Volgens sy direksie is sy voorsieningsprobleme nou opgelos en hy het al die entstowwe beskikbaar om aan sy kliënte te lewer.
OBP het in 2013 geld van die Nasionale Tesourie gekry om sy vervaardigingsfasiliteit op te gradeer. Teen Desember 2014 het hy reeds R63 miljoen van sy begrote R492 miljoen bestee om sy laboratorium vir die vervaardiging van entstof te bou en te verbeter.
Mnr. Louis Serfontein, OBP se projekbestuurder vir internasionale standaarde vir goeie vervaardigingspraktyk (GMP), het aangedui dat die totale begroting vir die opgradering van die bestaande geboue nog nie ten volle bestee is nie en binne ’n jaar behoort al die opgraderings voltooi te wees.
Die konstruksiefase vir die nuwe fasiliteit is ’n kwartaal agter en daar word beplan om in Julie met konstruksie te begin. By hierdie fasiliteit, wat in die toekoms aan die GMP standaarde sal voldoen, sal die entstowwe vervaardig word. Dit sal ook die deur vir die uitvoer van entstowwe na Europa oopmaak. Daar word steeds beoog om die fasiliteit teen 2018 afgehandel te hê.
Dr. Steve Cornelius, uitvoerende hoof van die OBP, het gesê die entiteit se visie is om ’n wêreldwye farmaseutiese en biotegnologiese vervaardiger en verspreider van dieregesondheidsprodukte te word.
“Ons bou ’n GMP-fassiliteit. Dit het te doen met ons globale visie. Ons diens die Suid-Afrikaanse mark en verkoop ook baie entstowwe in die res van Afrika. “Tans verkoop ons so vêr as Sentraal-Asië en die Midde-Ooste. Ons kan nie die Europese, Amerikaanse en sommige van die Oosterse markte en die Suid-Amerikaanse mark, waar daar baie beeste is, binnedring nie, omdat ons nie ’n GMP-sertifikaat het nie.”