Boerderybedrywighede langs die Oranjerivier, wat ’n wye verskeidenheid landbou-aktiwiteite insluit, was in die kollig op die 39ste jaarkongres van die Oranjerivier Landbou-unie (ORLU) wat onlangs op Upington gehou is.
Wiaan van Rensburg, president van ORLU, het in sy presidentsrede gesê die rosyntjie-oes van 2018 was bo verwagting goed. “Die 94 000 ton wyndruiwe wat geoes is, was laer as die verwagting, maar produsente is nogtans dankbaar vir die hoë gehalte. Die volumes tafeldruiwe het as gevolg van nat skade nie gerealiseer nie.
“Wat die rooivleisbedryf betref, was daar welkome verligting ná reën. Dit sal egter nog lank neem vir boere om hul kuddes te herstel. Die opkomende sitrus- en neutbedrywe hou ook groot ekonomiese groei vir die gebied in.
Die waarde van opvoeding
Die gasspreker, prof Thuli Madonsela, het die gaste verras met die volgende openbaring: “Almal van u weet dat ek die voormalige Openbare Beskermer is. U weet ook dat ek ’n advokaat is en tans ’n professor aan die Stellenbosch Universiteit. Wat u egter nie weet nie, is dat my pa ’n plaaswerker was en my ma ’n huiswerker. Dit is hulle wat my geleer het dat dit slegs opvoeding is wat die verskil kan maak.”
Volgens haar is demokrasie by ’n kruispunt in Suid-Afrika en die res van die wêreld, met enorme onsekerheid en onstuimigheid aan die orde van die dag. Tegnologiese probleme, klimaatsverandering en veral die afgelope droogte het groot druk op die landbou geplaas.
Identifisering van risiko’s
Omri van Zyl, uitvoerende hoof van Agri SA, het landbouprodusente verseker dat hulle hul duim op die pols van die politiek, ekonomie en veral landbou het. Hy het onder meer verwys na die risikolessenaar wat Agri SA saamgestel het, wat risiko’s en die impak daarvan op die landbousektor identifiseer en voortydige oplossings soek.
Die drie belangrikste risiko’s is klimaatsverandering en die impak daarvan op droogtegebiede soos die Noord-Kaap, druk van verskillende faksies op die regering ten koste van landbouers, soos grondonteiening sonder vergoeding, en die bestuur van die waterinfrastruktuur.
Bron: AgriOrbit