Die voltooiing van ’n bemagtigingsprojek waardeur 55 kleinboere opgelei en 220 ha rosyntjiedruiwe in die Noord-Kaap gevestig is, is vanjaar van die groot hoogtepunte in die droëvrugtebedryf. Droëvrugte Tegniese Dienste (DTD), ’n filiaal van die sagtevrugtediensorganisasie Hortgro, het die bemagtigingsprojek sowat vier jaar gelede in die boeregemeenskap van Eksteenskuil by Keimoes van stapel gestuur.
Volgens Dappie Smit, bestuurder van DTD, is altesaam 220 ha rosyntjiedruiwe by 55 opkomende boere in Eksteenskuil gevestig.“DTD het hierdie projek geïnisieer en gedryf en ook verskeie ander organisasies betrek om bystand te gee, dienste te lewer en te help om die R25 miljoen wat daarvoor benodig was, bymekaar te kry.” Die nasionale tesourie het ook sowat R18 miljoen deur die Jobs Fund aan die projek bewillig. Die groep sukkelende boere was reeds ’n tyd lank besig om druiwe vir rosyntjieproduksie langs die Oranjerivier te verbou, maar kon weens ’n tekort aan kennis, tegniese opleiding, ondersteuning en toegang tot die markte nie ’n kommersiële vlak bereik nie.