Met die sprinkaanuitbreking in die Noord-Kaap is daar groot kommer oor die potensiële skade aan somergewasse. Die sprinkane is vlieërs wat amper gereed is om eiers te lê wat nóg ‘n groter plaag in Augustus kan beteken. Boere wend nou onkonvensionele metodes aan om die plaag te bestuur.
“Dis ongewoon om sulke groot swerms te sien. Daar is besluit om helikopters te gebruik, want die spanne wat met bakkies werk, kan nie voorbly nie,” vertel Nicol Jansen, voorsitter van Agri Noord-Kaap.
Die uitbreking het die potensiaal om bedeuidnede skade aan somergraanoeste te rig, veral in die Orangejerivier-gebied, waarsku dr. Gerhard Verdoorn, hoof van bedryfsake en rentmeesterskap by Croplife SA. Die uitbreking word ook aangehelp deur abnormale nat toestande wat die ideale toestand skep vir sprinkane om uit te broei en eiers te lê.
‘n Rosyn-en-wyndruifboer van die distrik Grootdrink langs die Benede-Oranjerivier, Jors van der Westhuizen, moes vroeër vandeesweek sprinkane in hul wingerde en op gesaaides beveg.
Hulle kon egter nie gif gebruik om die sprinkane te bekamp nie.
“Ons het dae lank die masjinerie wat waaiters wat ons gewoonlik gebruik om die wingerde te bespuit, gebruik om die sprinkane te verwilder. Ons het ook bande rondom die wingerde aan die brand gesteek, want die rook verdryf ook die sprinkane,” vertel hy.