Nuwe wysigings aan die reëls wat deur die Nasionale Waterwet ingestel word, stel streng nuwe perke op hoeveel water uit riviere en boorgate onttrek en gestoor mag word. Watergebruikers wat regte het om water uit riviere en boorgate op te berg ingevolge die watergebruik-kategorie wat die Nasionale Waterwet (Wet 36 van 1998) as “algemene magtigings” beskryf, sal teen Maart aanstaande jaar in sommige gebiede tot 148 000 m3 minder water per jaar mag neem as wat onder die huidige magtigings toegelaat word.
Die maksimum toelaatbare hoeveelheid water wat jaarliks op ’n eiendom gestoor mag word, is ook aangepas, en geld nou net vir damme wat nie in ’n stroom of rivier gebou is nie. Verder stel die nuwe magtiging ook perke op die maksimum tempo waarteen water uit ’n bron onttrek kan word. In sommige gebiede is dié tempo ’n skamele 1 liter per sekonde, wat die waterkenner mnr. Adriaan Groenewald as “skrikwekkend min” beskou.