Die afgelope week het broodnodige reën sien uitsak oor groot gedeeltes van die land, insluitende die Noord-Kaap wat steeds gebuk onder droogte staan. Dit kom nadat die tropiese sikloon Chalene vanaf Madagaskar tot in Mosambiek gevorder en vandaar groot volumes vog weswaarts gestuur het.
Rondom Olifantshoek het dit by tye swaar gereën en die dorp se strate was selfs ‘n ruk onder water. Vanuit Postmasburg, Prieska, Kenhardt, Kakamas, Britstown, Calvinia en so wys as Victoria-Wes het goeie tydings gekom. In die Boesmanland en Bo-Karoo het boere die hemele en weervoorspellings angstig dopgehou. Sommige was gelukkig, maar baie nie.
Tafeldruif plukseisoen ontwrig
Sati (die Suid-Afrikaanse tafeldruifbedryf) het ‘n verklaring uitgereik wat noem dat die verpakking van tafeldruiwe in die Oranjerivierstreek met ‘n week vertraag is weens die swaar reën. Die aanvang van die seisoen in dié streek is reeds twee weke laat, met 30% van die oes wat nog verpak moet word. Produsente is egter optimisties dat die skade weens die reën aan die later kultivars beperk sal wees aangesien die druiwe vir beskerming onder plastiek geplaas word.
Nóg reën voorspel
Vanaf ongeveer 22 tot 25 Januarie word redelik swaar reën weer oor die grootste dele van die land verwag, wat insluit groot gedeeltes van die Noord-Kapp, asook Namibië tot so ver oos as Mpumalanga. Hierdie stelsel het die potensiaal om oorstromings te veroorsaak gegewe die nat toestande en versadigde grond en vol damme,” sê mnr. Johan van den Berg, onafhanklike landbouweerkundige.
Van den Berg beveel aan dat mense versigtig moet wees in laaggeleë gebiede en nie-noodsaaklike werktie, asook alle vee wat in veral riviergebiede loop, te ontruim.
Lees meer op Landbou.