Kakamas in die Noord-Kaap is geleë in die vrugbare Oranjerivier-vallei, en is geseënd met vrugbare wingerde.
In 1960 het die Kakamasbedryf begin om druiwe vir rosyne te kweek en in 1980 met tafeldruiwe begin. Vandag word Kakamas se rosyne en tafeldruiwe wȇreldwyd uitgevoer.
Hierdie klein dorpie en sy omliggende plase verskaf 23.7% van die totale jaarlikse tafeldruif-oes van die Oranjerivier-distrik en 7.3% van die totale Suid-Afrikaanse tafeldruif-oes.
Rosyntjieproduksie in Suid-Afrika
Suid-Afrika is ‘n netto-uitvoerder (meer uitvoer as invoer) van rosyne, omdat ons meer produseer as wat ons plaaslike mark kan gebruik. Suid-Afrika word beskou as die wêreld se sesde grootste produsent van hoëgehalte rosyne vir die uitvoermark, waarvan die meerderheid (70%) in die Noord-Kaap langs die Oranjerivier gekweek word.
Rosyntjieproduksie vind ook plaas in Namakwaland, en sommige dele van die Wes-Kaap.
Rosyntjiekultivars doen baie goed in Kakamas, en sultanas word spesifiek vir rosyntjiedoeleindes geplant, omdat hulle meer bestand is teen die reën.
Die weer speel ’n baie belangrike rol in rosyntjieproduksie. Reën het ʼn groot impak – net een reënbui sit rosyntjieverpakking nege dae terug.
Tafeldruiwe in Suid-Afrika
Volgens die Suid-Afrikaanse Tafeldruifbedryf Industrie (SATGI), is Suid-Afrika die Noordelike Halfrond se oudste en mees betroubare verskaffer van tafeldruiwe.
Suid-Afrika produseer ‘n wye verskeidenheid tafeldruiwe wat oor ‘n tydperk van sewe maande geoes word – die oestydperk begin in Oktober en eindig in Mei.
In Suid-Afrika is daar vyf belangrike tafeldruifproduksiestreke, naamlik die Noordelike Provinsie, die Oranjerivier-streek, die Olifantsrivier-streek, die Bergriviervallei-streek en die Hexriviervallei-streek.
Die Oranjerivier-streek is verantwoordelik vir die soetste druiwe as gevolg van die warm winters en warm, droë somers. Die grootse gewas wat hier aangeplant word, is die Thompson-saadloos. Meer as 30,8% van totale Suid-Afrikaanse produksie word deur 52 boere op net 998ha gekweek, met ʼn totaal van 1 823 797 wingerde.
Daar kan groot verliese met tafeldruiwe saamgaan. Met die vroeë kultivars kan voëls tot 40% skade in ‘n week veroorsaak. Druiwe is ook baie sensitief vir ryp en hael kan ook tot groot verliese lei. Die verliese word verminder deur die druiwe toe te maak.
Kobus van Zyl van die plaas Loveren in Kakamas kweek ongeveer 60 hektaar tafeldruiwe vir uitvoerdoeleindes en glo dat ’n boerdery ’n geloofsaak is omdat so baie faktore ʼn oes kan beïnvloed.
Bron: Plaasproe