’n Span navorsers hier op eie bodem het onlangs ’n prototipe van Suid-Afrika se eerste wingerdrobot bekend gestel. Dié vernuftige toestel beloof om met behulp van gevorderde tegnologie, wingerdverbouing in Suid-Afrika volhoubaar en toekomsgerig te maak.
Die Dassie, soos die robot bekend staan, is “gebore” nadat die wingerdkundeplatform van die Instituut vir Wingerd- en Wynwetenskappe (IWWW) September laas jaar ’n robotika-projek van stapel gestuur het. Die instituut voer aan daar word reeds in ander lande met wingerdrobotte geëksperimenteer. Om een in te voer en hier in Suid-Afrika te onderhou sal egter baie duur wees.
’n Wingerdrobot soos Die Dassie kan ’n ruimtelike oorsig van ’n wingerd gee. Hommeltuie kan dit ook doen, maar is onderhewig aan streng wetgewing en word ook beperk deur weertoestande soos wind en reën. “Dié inligting kan help om te bepaal waar presies die beste plek binne ’n wingerd is om byvoorbeeld grondvogmeters te installeer of hoe om die metings in konteks te plaas met die res van die wingerd,” voer die span aan.
Klik hier om meer te lees.
Foto: Netwerk24